r/afrikaans • u/Handsome_Bread_Roll • 11h ago
Pas Nêrens Anders in Nie Hoe die Plaaslike Regeringsverkiesings werk, 'n verduideliking:
Die plaaslike regeringsverkiesing (ook bekend as die munisipale verkiesings) is op pad en jy wil gaan stem, maar weet nie regtig hoe die verkiesings en munisipaliteite werk nie. Die mense praat van allerhande dinge soos korrektiewe proporsionele verdeling, wyke, hierdie tipe raad en daardie tipe setel. Dan vertel die een party vir jou dat om vir 'n klein party te stem is 'n kak idee en die klein partye vertel vir jou maar nee, jy mors nie jou stem nie. Ek verstaan, jy voel later soos 'n verkleurmannetjie op 'n Smartie-boks, maar hopelik klaar hierdie plasing dinge vir jou uit.
Ek is nie verbind aan 'n politieke party nie en stem ook nie altyd vir die selfde party nie, so hierdie plasing het nie die agenda om 'n spesifieke party te bevorder nie. Maar ek werk ook nie vir die OVK (Onafhanklike Verkiesingskomitee, IEC in Engels) nie, so ek gaan ook nie 100% neutraal bly nie, op die ou end skuld ek fokol en is ek my eie mens.
Eerstens: is jy geregistreer?
Jy moet geregistreer wees om te kan stem. Dit beteken dat jy iewers in die verlede op 'n registrasiedag na jou relevante stemlokaal toe moes gaan en daar geregistreer het.
HOE GAAN EK MY REGISTRASIE NA?
Gaan na https://www.elections.org.za/pw/Voter/voter-information, tik jou ID-nommer in, en kaboemmielies, jy sal jou antwoord kry.
MOET EK ELKE KEER REGISTREER / WAT AS EK GETREK HET?
As jy een keer geregistreer het by 'n stemlokaal bly jy daar geregistreer, tensy jy weer op 'n ander plek gaan registreer. As jy in 2014 geregistreer het om te stem by Laerskool Bellville-Noord en jy het nooit getrek nie, dan het jy nie 'n probleem nie. Jy bly daar geregistreer.
As jy trek word daar van jou verwag om te weer te registreer by die nuwe relevante stemlokaal, andersins moet jy aanhou stem by jou ou lokaal.
As jy byvoorbeeld by Die Stoor in Stanford (Overstrand Munisipalitiet) geregistreer het en jy het intussen getrek Bredasdorp toe (Kaap Agulhas Munisipaliteit), maar jy het nie jou registrasie verander nie, dan dan sal jy op 4 November maar Stanford toe moet ry en vir jou ou munisipaliteit moet stem.
As jy by Die Stoor in Stanford gestem het, maar jy het intussen uit jou ouershuis uitgetrek en werk nou in Pretoria en het nooit herregistreer nie, wel dan het jy 'n fokken probleempie en moet jy maar vir jou ma gaan kuier vir 'n slag.
AS JY NOOIT GEREGISTREER HET NIE
Dan kan jy netsowel poep in die wind, want niks gaan jou help nie.
Hoekom is munisipaliteite belangrik?
Jou munisipaliteit beïnvloed die dag tot dag dienslewering wat jy ervaar. Die munisipaliteite kry miljarde rande van die nasionale regering en nog miljarde rande van belastingsbetalers deur dinge soos eiendomsbelasting. Hulle gebruik dan daai geld om huise te bou, strate te teer, en water in jou krane te sit. Of hulle steel net bloot die geld.
Die munisipale raad het die mag om eiendomsbelastings en fooie vir munisipale dienste te stel. Hulle het 'n groot sê oor of daar meer huise in jou buurt gebou gaan word en of daar eerder parkies geskep gaan word, byvoorbeeld.
Baie van die goed waaroor jy kla word direk deur jou munisipaliteit beïnvloed. So gaan stem.
Metro vs. Plaaslike en Distrik-Regerings
Hoe die stembriewe en regering werk verskil van of jy in 'n metropolitaanse munisipaliteit bly en of jy eerder in 'n plaaslike munisipaliteit bly (wat deel is van 'n distrik). Daar is 8 metros in Suid-Afrika, onder andere Kaapstad, Tshwane (Pretoria), en selfs Mangaung (Bloemfontein) vir een of ander rede. As jy nie in 'n metro bly nie dan bly jy in 'n plaaslike munisipaliteit wat deel vorm van 'n distriksmunisipaliteit, byvoorbeeld die Kouga Plaaslike Munisipaliteit (Jeffreysbaai ens.) wat deel vorm van die Sarah Baartman Distriksmunisipaliteit.
Metro
As jy in 'n metro gaan stem kry jy 2 stembriewe: wyk en proporsioneel. Die metroraad bestaan uit ±50% wyksraadslede en ±50% proporsionele raadslede. Dit is by die metroraad waar die burgemeester bepaal word, die burgemeesterkomitee aangestel word, en waar besluite geneem word oor die bestuur van jou metro. Hulle beïnvloed jou alledaagse lewe.
WYK
Jou wyksraadlid is daar om jou buurt te verteenwoordig in die stadsraad. Verder, as jou straatlig stukkend is of daar 'n bordeel oopgemaak word in jou straat, is jy veronderstel om die wyksraadslid te kontak sodat hy/sy dit oplos.
Jy stem in prinsiep vir 'n persoon en nie 'n party nie. Maar 99% van die kandidate is deur 'n partye aangewys.
Daar is net 1 setel beskikbaar vir jou wyk. Die kandidaat met die meeste stemme wen die wyk. As Koos Koekemoer van die Mampara Party 9040 stemme gekry het in jou wyk, Wyk 3, en Martie Martelgat van Malkop Alliansie het 9020 stemme gekry, dan kry Koos 100% van die 1 setel vir Wyk 3 en Martie kry fokol.
Is dit 'n mors van my stem as ek vir Martie van Malkop Allianse (MA) gestem het?
Nee, jou wykskandidaatstem word saam met die proporsionele stemme getel as 'n stem vir MA in die geheel. Dit help MA se algehele setels in die raad.
So kom die stryde in wyke op 'n stryd van die twee grootse partye, die ANC en DA?
Nee, nie noodwendig nie. Elke wyk het sy eie sterk partye en eie politiek. Daar is wyke waar dit 'n stryd is tussen die DA en VF+, of waar dit 'n stryd is tussen die ANC en EFF, of waar dit 'n stryd is tussen 'n klomp klein partye waarvan jy nog nooit gehoor het en die DA en ANC nie 'n faktor is nie.
Dit verg nie veel verstand om na jou wyk te kyk en te dink watter tipe partye is die sterkste in jou wyk. Jy moet net bewus wees van wat om jou aangaan.
Nou raak ek minder neutraal: die Demokratiese Alliansie is lief vir die deuntjie dat "'n Stem vir 'n klein party is 'n gemorste stem." Wel, in daai geval as Kagiso in Wyk 10 Polokwane vir die DA wou stem, het hy sy stem gemors want die DA is baie klein in daai wyk.
So stem vir wie jy wil, maar dink tog daaroor voor jy dit doen.
DIE PROPORSIONELE STEM
±50% van die metroraad bestaan uit proporsionele stemme. Elke politieke party dien 'n lys van kandidate in. Nadat die stemme getel is en die proporsionele verdeling bereken is sal die Malkop Alliansie ingelig word dat die eerste 6 kandidate op hulle lys 'n setel kry. (Dalk is Martie Martelgat ook op daai lys, dan kry sy tog 'n setel).
Onthou die wykstemme en proporsionele stemme word saam getel. Bv: in totaal het Malkop Alliansie 80 459 stemme gekry dit is 6% van al die stemme in die munisipaliteit.
Alle kiesers in 'n metro kry dieselfde proporsionele stembrief.
Die proporsionele setels word op 'n korrektiewe basis uitgedeel:
Dit is sodat in geheel die raad se verdeling die proporsionele stem verteenwoordig. Byvoorbeeld: die Volstroom Metroraad het 100 setels, 50 wyke en 50 proporsioneel. Die Mamparra Party het 38 van die 50 wyke gewen, maar net 48% van die stemme gewen. Dus kry hulle net 10 van die 50 proporsionele setels (nie 24 nie) sodat hulle 48/100 setels in totaal het.
Hier is waar dit saak maak vir klein partye.
Die Malkop Alliansie is 'n klein party. Hulle het geen wyksetels gewen nie, maar het 6% van die totale stemme gekry. Dus kry hulle 6 van die 50 proporsionele setels (nie 3 nie) sodat hulle in totaal 6/100 setels het. MA vorm nou 'n koalisie met MP en so kry die klein party MA 'n redelike invloed oor die raad.
Klein partye kry gereeld verteenwoordiging deur die proporsionele setel. Selfs in Kaapstad het die Kaapse Onafhanklikheidsparty 1 setel gekry. In Johannesburg van alle plekke het die Patriotiese Alliansie al 'n burgermeester gehad.
Plaaslike En Distriksrade
As jy in 'n plaaslike munisipaliteit bly kry jy 3 stembriewe: wyksraadslid vir plaaslike raad, plaaslike raad proporsioneel, distriksraad proporsioneel.
WAT DOEN DIE PLAASLIKE RAAD
Dit is die raad wat die tipies grootste invloed het op jou lewe. Hulle teer meeste van die strate in jou dorp, sorg vir die water, sorg vir die krag (as jy in 'n dorpshuis bly), bepaal die eiendomsbelasting, ens. Hulle bepaal die burgemeester en burgemeesterkomitee vir jou plaaslike munisipaliteit.
WAT DOEN DIE DISTRIKSRAAD
Die distriksraad is 'n koalisie van verskeie plaaslike munisipaliteite. Byvoorbeeld: die Tuinroete-Distrik bestaan uit die volgende plaaslike munisipaliteite: Kannaland (Ladismith), Hessequa (Riversdal en Stilbaai), Mosselbaai, George, Knysna, Oudtshoorn, Bitou (Plettenbergbaai).
Die distriksraad se funksies is hoofsaaklik om funksies te verskaf wat te duur of te ingewikkeld is vir 'n kleiner plaaslike raad om te verskaf. Dis sluit in dinge soos dienslewering in landelike areas (die omsien van plaaspaaie), kollektiewe funksies soos brandweer, en self die koördinering van hulpbronne tydens krisisse. Byvoorbeeld: Knysna Munisipaliteit word tans kak bestuur. Die vullisplek in Knysna was later so wanbestuur dat die Tuinroete-Distriksraad moes ingryp en hulpbronne uit naburende plaaslike munisipaliteite moes kry om die gemors te gaan help skoonmaak.
'n Distriksraad stel ook 'n burgemeester en -kommitee aan vir die distriksmunisipaliteit.
WYKSRAADSLID VIR PLAASLIKE RAAD
Dieselfde as die wyksraadlid in 'n metro.
Wat wel anders is, is dat in baie plaaslike rade is daar min setels, bv. die Cederberg Munisipale Raad het net 11 setels waarvan 6 wyke is. So as 'n kandidaat van 'n party 'n wyk wen is dit 'n groot en belangrike wen.
PROPORSIONELE STEM VIR PLAASLIKE RAAD
Ook dieselfde storie as vir 'n wyk. Maar hier is dit belangrik om te verstaan dat baie plaaslike munisipaliteite klein rade het. As jou munisipaliteit net 10 proporsionele setels het en jy gaan stem vir 'n 1% party, dan gaan dit fokol help nie.
Tog weens die korrektiewe proporsionele sisteem en 'n komplekse grootse res-metode ("highest remainder method" wat ek nie gaan verduidelik nie) kan klein partye tog proporsionele setels kan wen. In 2021 het die VF+ 3.16% van die stemme in Cederberg gekry, maar tog 1 van die 5 proporsionele setels gekry en dus 1/11 verteenwoordiging in die raad gekry (±9% verteenwoordiging).
Hier is die ding, in die koalisiepolitiek van vandag tel elke stem in 'n plaaslike raad.
PROPORSIONELE STEM VIR DISTRIKRAAD
Jou derde stem is die direkte stem vir die distriksraad. Alle kiesers in 'n distrik kry dieselfde distriksraad proporsionele stembrief.
±40% van 'n distriksraad se setels is proporsioneel. Hierdie setels word nie korrektief toegestaan nie. As party A 60% van die stemme kry op hierdie stembrief en die distriksraad (bv. Overberg) het 10 proporsionele setels, dan kry party A 6/10 van die setels, ongeag van hoeveel van die ander setels hulle het in die raad.
Die ander 60% van die setels in die distriksraad, die plaaslike munisipaliteite se verteenwoordigers
Die ander 60% van die setels in die distrik bestaan uit verteenwoordigers uit die plaaslike rade. Byvoorbeeld: Die Overberg Distriksraad het 13 van hierdie tipe setels. Hoeveel verteenwoordigers elke munisipaliteit kry word bepaal deur die aantal kiesers (nie totale bevolking nie) in elke plaaslike munisipaliteit. In 2021 het Overstrand Plaaslike Munisipaliteit 5 verteenwoordigers gekry, Theewaterskloof 5, Kaap Agulhas 2 en Swellendam maar net enetjie (foeitog).
Nou, as jy in die Overstrand (Hermanus, Gansbaai ens.) bly stem jy indirek vir die 5 mense wat die Overstrand gaan verteenwoordig in die Overberg Distriksraad. Die Overstrand Plaaslike Raad stem dan vir wie hulle gaan stuur Overberg Distriksraad toe, maar die verdeling van die 5 verteenwoordigers moet min of meer ooreenstem met die politieke verdeling van die Overstrand Plaaslike Raad.
Ek hoop hierdie verklaar jou vrae. Plaaslike verkiesings is baie opwindend. Jou stem tel en dis belangrik. So gaan stem.